Die Bybelse Hantering van Beproewing - 01[1]
Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word). Indien u die kleur van die font (letters) wil verander - verlig die hele teks in u Woordverwerkingsprogram en verander die kleur van die letters soos gewoon. Druk hierna die preek uit indien verkies.
Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word). Indien u die kleur van die font (letters) wil verander - verlig die hele teks in u Woordverwerkingsprogram en verander die kleur van die letters soos gewoon. Druk hierna die preek uit indien verkies.
1. INLEIDING:
Ek wil vanoggend oor ’n onderwerp met julle deel wat ek voel noodsaaklik is om van kennis te neem, omdat ek persoonlik dink dat dit ’n reuse blokkasie in bykans alle gelowiges se lewe is.
Daar is nie een van ons wat vanoggend hier sit wat nie op een of ander stadium van ons lewe, een of ander vorm van beproewing of pyn of lyding ervaar het nie. Sommige in ’n bykans oortreffende trap en andere moontlik in ’n mindere mate. Sommige van ons het die afgelope tyd deurgeloop onder misdaad; Trudi het die afgelope twee weke vir Henry aan die dood afgestaan; Lorraine het geweldige skade gely toe al haar rekenaars, wat haar brood en botter is, die afgelope week gesteel is; daar is meer as een van ons wat in die verlede of selfs tans, onsself in benarde finansiële situasies bevind het. Andere het al ’n werk of ’n huis verloor; ander weer word beproef deur fisiese pyn en/of siekte. En so kan ons aangaan – Niemand word gespaar van pyn en lyding nie – almal van ons ervaar beproewing op een of ander stadium in ’n mindere of meerdere mate!
Dit is verder van die uiterste belang dat ons as gelowiges sal leer om pyn en lyding, of beproewing as u wil, op die regte wyse te hanteer, want as ons nie weet hoe om dit te hanteer nie, kan ons ontnugter raak in God; kan ons knak onder vervolging indien ons ooit daaraan blootgestel mag raak; ons kan verbitterd en uitsigloos raak, ens.
Ek wil graag vanoggend twee vrae aanspreek in ons soeke na ’n Bybelse hantering van beproewing en dié twee vrae is die volgende:
· Hoe moet ek God se soewereiniteit en beproewing met mekaar versoen?
· Hoe moet ek pyn en lyding op die regte wyse, nee, op ’n Bybelse wyse hanteer?
2. BEPROEWING EN GOD SE SOEWEREINITEIT:
Ons lees die volgende in 1 Kron.29:10-16 ~ Dawid het ’n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: “Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. 11 Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. 12 Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. 13 En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, 14 want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. 15 Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan verby. 16 Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om ’n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U.
Hierdie gedeelte waar Dawid God loof en prys, is ’n klassieke Skrifgedeelte om na God se Soewereiniteit te verwys.
Wat bedoel ons egter met die uitdrukking, “God se soewereiniteit”? A.W. Pink sê dat wanneer ons sê dat God soewerein is, ons daarmee verklaar dat God, God ís. Hy sê verder ~ To say that God is sovereign is to declare that He is the Most High, doing according to His will in the army of heaven, and among the inhabitants of the earth, so that none can stay His hand or say unto Him, What doest Thou? Hy gaan voort en sê: To say that God is sovereign is to declare that He is the Almighty, the Posessor of all power in heaven and earth, so that no one can defeat His counsels, thwart His purposes, or resist His will. Dit weer, grond hy op Ps.115:3 ~ En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil, doen Hy.
Pink sê ook: To say that God is sovereign is to declare that He is “The Governor among nations” (Ps.22:28), setting up kingdoms, over throwing empires, and determining the course of dynasties as pleaseth Him best. To say God is sovereign is to declare that He is the “Only Potentate, the King of kings, and Lord of lords” (1Tim.6:15). Such is the God of the Bible.
Die SOLA5 Geloofsbelydenis verklaar in paragraaf 1.3 die volgende oor die soewereiniteit van God ~ God is sovereign and works all things according to his own righteous will, for His own glory. From all eternity God decreed everything that would ever happen in time; He did this in perfect wisdom and holiness. Furthermore, God sustains and governs all His creatures by His supremely wise and holy providence. In so doing He fulfils the purpose for which they were created, in order that His own attributes and glory may be praised.
Hierdie is pragtige en Bybels korrekte definisies van God se soewereiniteit en ek glo dat die meeste, indien nie almal van ons volmondig hiermee saamstem.
Wanneer ons gekonfronteer word met allerlei swaarkry en beproewing is die meeste van ons ook reeds só “geprogrammeer” om baie vinnig te sê dat God soewerein is en dat Hy nie foute begaan nie en dat ek onder Sy soewereine wil buig. Dat Hy in beheer is! En dit is nie verkeerd nie, want dit ís so dat God deur Sy soewereine wil, beproewing in my lewe toelaat, die vraag is egter, wat my siening régtig is t.o.v. God se soewereiniteit is. Sien ek God as ’n soewereine God wat maak net wat Hy wil en tree Hy gevoelloos en liefdeloos op en straf Hy my, of is daar genade en liefde en guns en barmhartigheid teenwoordig in die uitvoering van Sy soewereine wil?
Indien ek sê dat God my straf as ek beproewing ervaar, kan dit dus op een van twee maniere manifesteer.
· Ons kan óf in opstand kom teen God en soos die Israeliete, uiteindelik bedroë daarvan af kom. Jesaja beskryf dit baie mooi ~ Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. 19 As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet, 20 maar as julle weier en opstandig bly, sal die swaard júlle eet, want dit is die Here wat dit gesê het.
· Óf ons kan God se soewereiniteit gelate aanvaar, want ek mag mos nie teen God in opstand kom nie en daarom onderdruk ek enige negatiewe gevoelens oor my pyn en lyding, maar ek tree tog ook nie Bybels korrek op nie, want ek dra en hanteer hierdie pyn en lyding steeds nie met die regte gesindheid nie – ek kan nie oorwinning kry nie; ek kan nie in vreugde lewe nie.
Wat is die gevolg van beide hierdie gesindhede; van hierdie siening van God se soewereiniteit? So ’n optrede en gesindheid, lei uiteindelik tot wanhoop en uitsigloosheid en ontnugtering – ontnugtering in ’n God wat toelaat dat hierdie swaarkry oor my kom en uiteindelik kan ek so maklik uitroep: Hoe kan die Woord sê dat Hy ’n God van liefde is? Of, die Woord maak ten diepste net nie vir my sin nie – ek verstaan God se karakter nie; ek verstaan Sy liefde nie – in kort, ek verstaan Sy Woord nie.
Hoe moet ek dan God se soewereiniteit sien? Kom ons kyk net kortliks daarna:
· Ons moet besef dat God in die eerste plek ’n barmhartige God is. Ons het nie ’n reg tot God se barmhartigheid nie. Nee. Hy skénk dit aan ons wat gebuk gaan onder die sonde en die sondeval. ’n Volmaakte voorbeeld van God se soewereine barmhartigheid, is die feit dat Sy Seun, Jesus Christus mens geword het en tussen ons kom bly het. Of, bv. die genesing van die siek man by die Bad van Betesda (Joh.5:1-9).
· Tweedens leer die Woord ons, dat God se soewereiniteit genadig van aard is. God stort Sy genade uit oor almal van ons wat dit beslis nie verdien nie. Ons sien God se soewereine genade pragtig uitgebeeld in Rom.5:21 ~ Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.
· Ons het eerstens gesien dat God se soewereiniteit gaan oor barmhartigheid en tweedens het ons gesien dat God se soewereiniteit vol genade is. Nou sien ons in die derde plek, dat die fondasie van God se soewereiniteit, Sy liefde is. Rom.8:31-39 beskryf dit vir ons pragtig ~ Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? 33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. 35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Wanneer ek dus oor die regte siening t.o.v. God se soewereiniteit beskik begin ek beproewing uit ’n ander hoek sien, maar steeds kan daar vrae in my gemoed wees, vrae soos: Indien God liefdevol, genadig en barmhartig soewerein is, waarom ervaar ek dan hierdie beproewing - Sy Woord sê tog immers in Rom.8:28 ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Alles werk nié nou terwyl ek hierdie beproewing ervaar ten goede vir my uit nie en as ek dan glo dat God se soewereiniteit in liefde en genade en barmhartigheid geskied, moet die fout mos by my lê! Baie gelowiges kom dan op hierdie punt en begin hulle glo dat hulle gesondig het en daarom is God nie meer lief vir hulle nie en straf Hy hulle.
Ons moet egter altyd in gedagte hou dat, wanneer ons beproewing ervaar, God daardie beproewing in Sy soewereine wil toelaat en dat hierdie soewereine wil, altyd geskied uit barmhartigheid, genade en in volmaakte Goddelike liefde.
3. HOE OM BEPROEWING BYBELS TE HANTEER:
Ten einde die probleem van beproewing verder aan te spreek en te kyk wat die regte gesindheid onder die omstandighede behoort te wees, moet ons gaan kyk waar beproewing vandaan kom en daarvoor moet ons uiteraard, spesifiek na die Woord van God gaan kyk:
· In die eerste plek leer die Woord ons dat alle pyn en lyding en beproewing, uiteindelik terug gelei kan word na Adam se sonde. Gen.3:17-20 ~ Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19 net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.” 20 Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense.
Ons moet dus altyd in gedagte hou dat swaarkry in hierdie lewe bestaan a.g.v. Adam se sonde en dit sal nooit verdwyn alvorens Jesus Christus ons kom haal nie. En die enigste manier om uiteindelik van hierdie swaarkry op aarde en die uiteindelike ewige swaarky, verlos te word, is deur die soendood wat Jesus Christus aan die kruis vir my gesterf het – en dit is die toppunt van God se barmhartige en genadige en liefdevolle soewereiniteit. Maar solank ek in hierdie lewe is, sal ek voortdurend gekonfronteer word met beproewing in een of ander vorm.
· Tweedens leer die Woord ons, dat sommige van die ellende in hierdie lewe, die gevolg is van ons eie sonde. ’n Eenvoudige voorbeeld dalk: Die Woord leer ons dat ons, ons moet onderwerp aan die gesag wat oor ons aangestel is (Rom.13:1-5) en hierdie “gesag” bepaal dat ek nie die snelheidsgrens van 60 k.p.u. in die dorp mag oorskry nie – en as ek ongehoorsaam is, word ek gevang en lei ek aan die gevolge van my eie sonde, deurdat ek ’n boete moet betaal.
Ook hier kan ons egter staatmaak op God se liefdevolle en barmhartige soewereiniteit, deurdat ek my sonde teenoor Hom kan bely en om vergifnis kan vra ~ 1Joh.1:9 ~ Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. En nadat Hy my vergewe het, kan daardie pyn omgesit word in vreugde – dink hier bv. aan Petrus: Nadat Hy Jesus verloën het, het Jesus hom vergewe en sê Hy later aan Petrus in Matt.16:18 ~ Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie – sondige Petrus word die “Rots” waarop die kerk gebou is!
· Derdens kan beproewing veroorsaak word deur andere se sonde. Ons vind talle sulke voorbeelde in die Woord. Ons sien bv. in Gen.12, hoe dat Abraham vir Sarai sy vrou, opdrag gegee het om vir die koning van Egipte te lieg oor die feit dat sy, sy vrou is en ons sien in vers 17 wat die koning van Egipte se beproewing was, a.g.v. Abraham se “liegsonde” ~ Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai die vrou van Abram.
Ons ken ook die verhaal van Jakob en Esau baie goed, waar Jakob sy pa Isak bedrieg het en sy ouer broer Esau, se seën “gesteel” het. Die gevolg was dat Esau vir die res van sy lewe, asook sy nageslag, erge beproewing sou moes ervaar. Esau is ontneem, van sy eersgeboortereg (Gen.27:36). Esau en sy nageslag sou Jakob se diensknegte moes word (v.37). Esau het geen seën van sy vader ontvang nie, al was hy die oudste (v.38). Esau was gebroke en hy het gehuil (v.38). Ons sien in vers 39, dat die Edomiete, Esau se nageslag, in ’n land sou bly met grond wat nie vrugbaar is nie. Hy sou van oorlog moes leef sê vers 40 vir ons. En in vers 41 sien ons dat Esau gebuk gegaan het onder haatgevoelens jeens sy broer en het hy homself voorgeneem om Jakob te vermoor.
Ook in hierdie geval sien ons dat God se soewereine liefde en genade ons kan help om hierdie beproewing te bowe te kom, deur o.a. die volgende Bybelse beginsels toe te pas:
- Matt.6:14 ~ As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Indien ons nie andere vergewe nie, sê die Woord, kan ons nie verwag dat die Vader ons moet vergewe nie. Hy is egter getrou en regverdig en Hy sal ons vergewe, het ons netnou in 1Joh.1:9 gesien.
- Indien ons nie vergewe nie, kan ons ook nie bid nie, want hoor net wat sê Jesus in Sy modelgebed, hoe ons o.a. moet bid ~ ...en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree (Luk.11:4). Doen ons dit werklik?
- Die uiteinde van Jakob en Esau se verhaal ken ons ook – Gen.33:4 ~ Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil.
Ons moet dus diegene wat teen ons sondig, vergewe en ons kan dit net regkry as ons God se soewereine liefde en genade in ons eie lewe ervaar.
· In die vierde plek kan God beproewing in ons lewe wil, sodat ’n situasie geskep kan word, waardeur ons Hom kan verheerlik. Dit impliseer dus dat nie elke stuk beproewing, noodwendig terug gelei kan word na eie sonde, of ander se sonde nie, en dan moet ons onsself afvra, hoe ons hierdie bepaalde situasie gaan hanteer.
Ook hier kan ons aan verskeie voorbeelde in die Skrif dink waar die persoon wat deur beproewing gegaan het, nie geweet het waarom dit hom getref het nie, maar sy gesindheid was deurgaans om God te loof en te prys in sy omstandighede. Dink maar net aan bv. Joh.9:1-3 ~ Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was. 2 Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” 3 En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.
Hoeveel te meer moet ons nie bereid wees om te ly as ons dink aan die woorde van Petrus toe hy gesê het ~ Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. 22 “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ’n leuen gekom nie.” 23 Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel (1Pet.2:21-23).
Om te ly soos wat Christus gely het, kan ons nie, maar om met Sy lyding te identifiseer, behoort vir ons ’n voorreg te wees.
Kan ons dit uit eie krag regkry om God te verheerlik deur ons swaarkry? Nee ons kan nie, maar Hy kan en wil ons deur Sy soewereine liefde en barmhartigheid help om dit wel te doen.
· Laastens leer die Woord ons dat sommige gevalle van beproewing oor ons pad kom, t.w.v. ons eie geestelike groei.
Ten einde beproewing op die regte wyse te hanteer, wanneer dit in hierdie vlak lê, moet ek myself spieël in die “Vrug van die Gees” wat ons in Gal.5:22-23 en 1Tim.6:11 en 2Tim.2:22 kry. En nie alleen kan ek hierdie moontlike vorm van beproewing aan die “Vrug van die Gees” meet nie, maar natuurlike ook die vorige drie.
Ek moet my dus self die volgende vrae afvra wanneer ek beproewing ervaar, nl. of die Here wil hê dat ek moet groei wat my liefde vir andere aan betref, of skiet ek tekort wat betref my vreugde, of my vrede, of my geduld, of vriendelikheid, of goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, of my selfbeheersing.
Dit is dus ook baie duidelik dat die Here God beproewing op hierdie vlak oor ons pad bring, omdat Hy ons oneindig lief het.
4. TEN SLOTTE:
· Dit is van kardinale belang dat ons, wanneer ons midde in beproewing en pyn en lyding verkeer, die regte gesindheid jeens God en beproewing sal hê ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13 Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid (1Pet.4:12-13).
· Tweedens is dit belangrik dat ons sal besef dat daar 5 redes is waarom beproewing oor ons pad kom en dat dit belangrik is dat ons sal vasstel watter rede op ons van toepassing is.
Ons moet besef dat beproewing altyd deel van Adam se sonde is. Volgende moet ons vir ons afvra, of die beproewing, die toedoen van my eie sonde is, of dié van andere; of die moeilikste een om dalk te onderskei, is of dit bloot is om God te verheerlik en laastens dat ek my daarin kan verheug dat dit altyd sal lei tot my eie heiligmaking.
· Derdens is dit belangrik dat ons sal besef dat beproewing ’n baie besliste doel dien. Probeer dus vasstel wat dit is wat die Here vir jou wil leer – en léér dit! Jakobus sê hieroor in Jak.1:3-4 ~ ...want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4 En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. En mag ons na die tyd saam met Job kan sê ~ Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud (Job 23:10).
· Vierdens is dit van die uiterste belang, dat jy getrou en gehoorsaam aan die Here sal bly tydens jou beproewing ~
16Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik. 19 Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen (1Pet.4:16,19).
· En laastens moet ons besef dat die Here nie noodwendig altyd die beproewing van ons sal wegneem nie, maar Hy belowe dat Hy aan ons die nodige sal voorsien om staande te kan bly te midde van die beproewing – dink maar net hier aan Paulus se “doring in die vlees” (2Kor.12:7-11).
En Jes.41:10 ~ Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
Die bekende 1Kor.10:13 ~ Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.
1Pet.5:10 ~ God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
My gebed is dat elkeen van ons, wanneer ons beproewing beleef, dieselfde gesindheid sal openbaar as wat Paulus in 2Kor.1-11: geopenbaar het, nl. ~ Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. 4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, 5 want net soos daar vir ons ’n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ’n oorvloed van bemoediging deur Christus. 6 As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur. 7 En wat julle betref, het ons ’n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het. 8 Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. 9 Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. 10 Dit is Hy wat ons uit so ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. 11 Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ’n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.
Mag jy en ek, God se barmhartige en genadige en liefdevolle soewereiniteit ervaar, elke keer as beproewinging in ons lewe ervaar en mag ons dit telkens op ’n Bybelse wyse hanteer.
Die Bybelse Hantering van Beproewing - 02[2]
1. SKRIFLESING:
Ons het verlede week gesien dat God beproewing uit Sy barmhartige, genadige en liefdevolle soewereiniteit in ons lewe kan toelaat. Ons het ook gesien dat beproewing altyd deel van ons lewe sal wees, a.g.v. Adam se sonde, maar tesame met dit, kan dit ook wees omdat ons sélf gesondig het, of dat dit oor ons pad kom a.g.v. andere se sonde; of omdat God daardeur wil hê dat ons Hom moet verheerlik en/of sodat ons geestelik kan groei. Ek wil egter vanoggend nog vier redes aantoon waarom God beproewing in ons lewe kan toelaat.
Kom ons lees 2 Kor.1:1-24 saam ~ Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus. Aan die gemeente van God in Korinte en aan almal wat aan die Here behoort in die hele Agaje. 2 Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. 4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, 5 want net soos daar vir ons ’n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ’n oorvloed van bemoediging deur Christus. 6 As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur. 7 En wat julle betref, het ons ’n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het. 8 Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. 9 Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. 10 Dit is Hy wat ons uit so ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. 11 Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ’n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank. 12 Daar is een ding waarop ons trots is: ons gewete verseker ons dat ons oor die algemeen, en teenoor julle in die besonder, opgetree het met die openhartigheid en eerlikheid wat van God kom. Daarin is ons nie deur die wysheid van mense gelei nie, maar deur die genade van God. 13 In ons briewe skryf ons aan julle niks wat julle nie self kan lees en verstaan nie. Ek hoop net julle sal ons eendag heeltemal verstaan. 14 Tot nou toe het julle ons maar gedeeltelik verstaan. Op die dag wanneer ons Here Jesus kom, sal julle dan net so trots op ons wees soos ons op julle. 15 Dit was in hierdie oortuiging dat ek vroeër die plan gemaak het om julle te besoek, sodat julle twee keer ’n bewys van genade kon ontvang. 16 Ek wou julle op die deurreis na Masedonië toe besoek en weer op die terugreis van Masedonië af, en dan met julle hulp my reis voortsit na Judea toe. 17 Was ek miskien oorhaastig toe ek hierdie plan gemaak het? Of word ek deur menslike oorwegings gelei as ek planne maak, sodat ek in een asem “ja” en “nee” sê? 18 So seker as God getrou is, ons woord aan julle was nie tegelyk “ja” en “nee” nie, 19 want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, 20 die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê. 21 God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, 22 ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang. 23 Ek roep God tot getuie en staan met my lewe daarvoor in: dit was om julle te spaar dat ek toe nie na Korinte toe gekom het nie. 24 Ons wil nie as heersers voorskryf wat julle moet glo nie. Julle staan immers vas in die geloof. Maar ons wil medewerkers wees om julle geluk te bevorder.
2. INLEIDING:
As daar iemand is wat kán praat oor beproewing, is dit Paulus, hoor net weer wat sê hy in vers 8b en 9a ~ Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe,
laat vaar het. 9 Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is.
Dit het by hierdie geleentheid so swaar met hom gegaan, dat dit gevoel het asof hy gaan sterf en dan praat ons nie eens van al die ander kere wat dit swaar met hom gegaan het nie – in sy eie woorde n.a.v. 2Kor.11:23-28 ~ ...ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. 24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, 25 drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ’n dag en ’n nag in die oop see deurgebring. 26 Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. 27 Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. 28 Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.
As daar dus iemand is wat beproewing geken het, was dit Paulus. En as iemand iets eerstehands beleef het, is dit iemand na wie ons kan luister wanneer hy vir ons raad gee, en dit is presies wat Paulus in hierdie tweede brief van hom aan die Korintiërs doen.
3. NOG VIER REDES VIR BEPROEWING:
Net t.w.v. agtergrond: Behalwe dat Paulus al sy briewe begin deur God se genade en vrede oor sy lesers uit te spreek, gaan hy gewoonlik voort en dank hy God vir die genade wat sy lesers ontvang het toe hulle wederbaar is (bv.1Kor.1:4-9), of hy gee ’n opsomming van sy gebede wat hy vir hulle bid (bv.Fil.1:3-11) ens.
Hier in 2 Korintiërs 1 wyk hy egter af van hierdie gebruik en fokus hy op homself en bring hy lof aan God vir vertroosting en bemoediging vir hom (2Kor.1:3) en later in vers 11 vra hy voorbidding van die Korintiërs vir homself. Hierdie, kan ons amper sê, selfgesentreerdheid van hom, dui vir ons op sy geweldige nood en beproewing waarin hy verkeer (v.8-10).
Wanneer ons na die agtergrond van hierdie brief kyk, is dit verstommend dat Paulus die vrymoedigheid neem om steeds so openlik en eerlik met die Korintiërs te praat oor sy beproewing, want Paulus was op daardie stadium geweldig ongewild by baie van die gemeentelede. Sommige het hom selfs openlik geopponeer.
Maar waarom skryf Paulus hier oor sy persoonlike beproewing? Omdat hy aan sy lesers en aan ons, nog vier verdere redes wil verskaf waarom God beproewing in ons lewe toelaat. In die sesde plek dan......
· Sodat ons andere wat onder Beproewing gebuk gaan, kan ondersteun en vertroos (1:1-7): Die woord parakalew (parakaleo) kom tien keer voor in vers 1 tot 7 en word in Afrikaans vertaal met o.a. “moed gee” of “bemoedig”. Dit is presies dieselfde woord wat Jesus in Joh.14:16 gebruik vir die Heilige Gees nl. die “Parakletos”, of te wel die Trooster. Is dit nie wonderlik om te weet dat die Here, Sy Gees na ons gestuur het, om ons o.a. te troos wanneer ons deur beproewing gaan nie (Jes.41:10, 13; 43:2-3)!
Maar meer nog, ons sien dat die Vader ook vir ons ’n Trooster is, wanneer ons na vers 3 van ons Skriflesing kyk ~ Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. Daar is dus troos en genade vir ons beskikbaar onder alle omstandighede en tydens alle
vorme van beproewing.
Paulus wys egter vir ons daarop, dat hierdie troos nie net vir óns daargestel word nie, maar dat ons dit met andere wat ook beproewing ervaar, moet deel – God berei ons dus voor vir dit waarvoor Hy ons wil gebruik, nl. om andere te vertroos en te bemoedig. Dit is waarom Paulus deur beproewing moes gaan, sodat hy sy lesers deur die eeue heen kon vertroos en bemoedig. Ons kan baie moeilik mense op ’n pad lei waar ons self nog nooit geloop het nie, dit is waarom Paulus na sy beproewing verwys as lyding ter wille van Christus. Hy stel dit ook pragtig in 2Kor.4:10-11 ~ Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. 11 Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word. Hierdie vers beteken nié dat ons saam met Christus ly sodat ons versoening van sonde bewerkstellig kan word nie, Nee, Christus hét namens ons gely vir ons sonde, terwyl óns nou ly t.w.v. Christus en Sy eer.
Iemand het dit eenkeer pragtig gestel ~ The mathematics of God’s mercy is wonderful! As the trials abound, the comfort of God abounds as well! Where sin abounds, so does grace (Rom. 5:20)!
Ons as gelowiges moet dus dankbaar wees as daar beproewing oor ons pad kom, want dit het ’n dubbele seën tot gevolg – dit werk seën in die hand vir die gelowige wat beproef word en dit het seën tot gevolg vir diegene wie uit ons ervaring, weer bemoedig en vertroos kan word. Dit is waarom Paulus in vers 7 sê ~ En wat julle betref, het ons ’n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het.
Paulus leer ons in die sewende plek, dat ons beproewing ervaar......
· Sodat ons al ons vertroue slegs in God alleen kan plaas (1:8-11): Wanneer ons na verse 8 tot 11 kyk, kan ons maar net sê: Dit vat ’n “man op ’n perd” om sy foute en tekortkominge te erken, maar dit is presies wat Paulus hier doen. Hy stort sy hart teenoor sy lesers uit en hy vertel vir hulle van al die probleme wat hy in Klein-Asië beleef het – en dít nogal teenoor mense wat op daardie stadium teen hom gekant is. Wat hierdie beproewing was wat hy ervaar het, weet ons nie, maar sekerlik het die Korintiërs se verwerping ook bygedra tot sy beproewing.
Hy deel egter nie hierdie beproewing van hom ten einde simpatie by hulle te wek nie, maar om hulle die les te leer wat hý moes leer, nl.: Plaas al jou vertroue in God alleen.
Wanneer ons leer om ons vertroue in God alleen te plaas ten spyte van vervolging, of beproewing, of pyn en lyding, sal ons vrede en vertroue ervaar wat alle verstand te bowe gaan.
In die agste plek wil die Here hê dat ons deur beproewing sal leer......
· Om op God se beloftes te vertrou (1:12-24):
Paulus het by twee geleenthede aan die Korintiërs belowe dat hy hulle sou besoek, maar a.g.v. omstandighede was dit net nie moontlik nie en moes hy sy planne wysig en dit het tot gevolg gehad dat sy vyande hom van wispelturigheid en onbetroubaarheid beskuldig het. Hulle skryf verder aan die Korintiërs dat Paulus se briewe ook nie betroubaar is nie, al sê hý dat dit Goddelik geïnspireer is.
Paulus het op hierdie aantygings gereageer, deur vir hulle te sê dat hy opreg was en dat sy motiewe suiwer was, toe hy belowe het om hulle te besoek en hy gaan voort deur vir hulle in verse 12-14 te sê, dat wanneer Christus weer gaan kom om te oordeel, hulle sal sien dat hy die waarheid praat. Hy sê verder vir hulle, dat hy juis sy planne om hulle te besoek verander het, op grond van hulle liefde en begrip (v.15-16). Hy sê dus vir hulle, dat wanneer daar liefde en vertroue is, daar nooit vertwyfeling of agterdog moet wees oor motiewe nie. Paulus sê dus dat hy nie soos die wêreld is, wat “ja” sê, wanneer hulle eintlik “nee” bedoel nie.
Dit is dan juis hier wat Paulus vir ons ’n geweldige les leer, nl.: Die Woord van God is absoluut betroubaar en al die beloftes van God die Vader, kulmineer in Jesus Christus. Met ander woorde, die beloftes van God is in Christus Jesus waar – Hy vervul al Sy Vader se beloftes en Hy skenk aan ons die geloof om op hierdie beloftes te vertrou en vir onsself toe te eien.
Ons moet leer om eerder op God se beloftes in Sy Woord te staan en dit te vertrou, as om ons eie planne te beraam wanneer ons beproewing ervaar. Ons kán dit doen – enersyds omdat Sy Woord betroubaar is – Ps.19:8 sê nie verniet ~ Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. En andersyds kan ons God se beloftes vir onsself toe-eien, omdat ons in Christus deur die Heilige Gees, die krag ontvang om dit te doen.
Laastens sien ons dat beproewing baie dikwels oor ons pad kom,......
· Om nederigheid in ons lewe te bewerkstellig:
Ons lees in 2Kor.12:7b-9 ~ Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8 Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Hieruit blyk dit dus baie duidelik dat God toegelaat het dat Paulus beproewing moes ervaar – waarom? Om hom nederig te hou. En waarom is nederigheid noodsaaklik? Hoor wat sê Jesus self in Matt.11:29 ~ Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. En in Luk.14:11 sê Hy ~ Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word. En Paulus sê in Kol.3:12 ~ Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.
4. DIE REGTE GESINDHEID T.O.V. BEPROEWING:
Ek wil ter afsluiting net hê dat ons kortliks sal kyk na ’n paar Bybelse beginsels wat ons sal help om die regte gesindheid te hê, wanneer ons beproewing ervaar.
· Ons moet eerstens, altyd onthou dat daar nie so iets bestaan, soos ’n lewe sonder beproewing nie. Beproewing sal dus altyd met ons wees. Daar is baie mense wat wil hê dat God hulle moet verlos van beproewing, want hulle wil ’n kommervrye lewe hê, maar ons moet onthou dat sonde en beproewing altyd deel van hierdie lewe sal wees, o.a. as gevolg van Adam se sonde.
· Tweedens moet vryheid van beproewing, nooit ons hoofdoel in die lewe wees nie. Ons moet eerder fokus op hoe ons die beproewing moet hanteer, sodat dit tot eer van God kan plaasvind deur ons lewe en optrede. Die verligting van die beproewing moet dus sekondêr wees. Laat Paulus se woorde in Rom.14:7-8 eerder ons uitgangspunt wees ~Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. 8 As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.
· Ons moet derdens in gedagte hou dat ons nie kan kies wanneer ons deur beproewing kan gaan en wanneer nie. Wanneer ons geroep word om te ly, moet ons eerder besin oor God se doel met ons lyding.
· Wanneer ons beproef word, moet ons kíés om te glo dat God dit gebruik om iets goeds daaruit tot stand te bring. Ps.37:23 ~ Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.
· Wanneer ons beproewing ervaar moet ons dit as ’n wonderlike geleentheid beskou – ’n geleentheid om ’n belegging te maak in iets wat die moeite werd is – iets wat ewigheidswaarde het, eerder as wat ons die geleentheid by ons laat verbygaan. 1Pet.1:7 ~ ...sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. En daarmee saam, 1Pet.4:13 ~ Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid (sien ook Rom.8:28-29).
· Wanneer ons beproewing ervaar, moet ons onsself daaraan herinner, dat al die beproewing in ons lewe saam, nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat in die hiernamaals op ons wag nie. En dat hierdie lyding dus net tydelik van aard is. Rom.8:18 ~ Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (sien ook 2Kor.4:17; Openb.21:4).
· Wanneer ons deur beproewing gaan, moet ons altyd in gedagte hou, dat ons lyding tot voordeel vir andere mag wees. Hoor wat sê Paulus in Fil.1:12 ~ Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het (sien ook Fil.1:18; Hand.16;
Ef.5:20).
· Ons moet leer om tydens beproewing, op God se wysheid en Sy barmhartige en genadige en liefdevolle soewereiniteit te vertrou en vir onsself af te vra, hoe kan
ek geestelike groei deur hierdie beproewing en hoe kan ek God verheerlik deur my reaksie op hierdie beproewing.
· Ons moet onthou, dat dit wat ek glo en dit wat in my gedagtes aangaan, die verskil op die ou einde maak van hoe ek my beproewing hanteer en verduur (Kol.3:2; 2Tes.3:5; Ef.4:23; Fil.4:7-8).
· Ons moet voorts, altyd onthou dat God belowe dat Hy te alle tye, alles ten goede laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet (Rom.8:28).
· En laastens moet ons weet dat God in Sy Woord belowe dat Hy ons nooit bo ons kragte sal versoek nie (1Kor.10:13 – ook 2Kor.9:8;12:9-10).
[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 22 Februarie 2009
[2]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 01 Maart 2009
No comments:
Post a Comment